Die Lunar Gateway, of net Gateway, is 'n beplande klein ruimtestasie in 'n wentelbaan om die Maan wat sal dien as 'n sonkragaangedrewe kommunikasiesentrum, wetenskaplaboratorium, korttermynwoongebied vir ruimtevaarders en 'n stoorplek vir verkenningstuie en ander robotte.
Dit sal die eerste ruimtestasie buite 'n lae aardwentelbaan wees en die eerste een in 'n wentelbaan om die Maan.[1][2] Die amptelike naam is die Lunar Orbital Platform-Gateway (LOP-G).
Van die wetenskaplike dissiplines wat op die Gateway bestudeer sal word, sluit in planetologie, astrofisika, die waarneming van die Aarde, heliofisika, ruimtebiologie en menslike gesondheid.[3] Dit sal volgens plan in die 2020's gebou word.[4][5][6] Die Gateway sal van uiterste belang wees in die vestiging van 'n menslike teenwoordigheid op die Maan, Mars en ander voorwerpe in die sonnestelsel.[7]
Die projek sal na verwagting 'n groot rol speel in Nasa se Artemis-program ná 2024. Hoewel Nasa aan die hoof van die projek staan, sal die Gateway ontwikkel, gediens en gebruik word in samewerking met CSA, ESA, JAXA en kommersiële vennote. Dit sal onder meer dien as 'n fase in die stuur van mense en robotte na die Maan en Mars.[8][4]